Friday, October 19, 2012

2012 'n Jaar vol Heerlike verrassings!

Die jaar is nog beslis nie verby nie maar sover kan ons net vir die Here dankie sê vir elke oop hand en elke bietjie hulp wat ons van die gemeenskap ontvang het. Daar was so baie hoogtepunte.

Ons het vroeg die jaar afgeskop met ons jaarlikse Gholfdag by die Brits gholfbaan in Maart! So baie helpende hande en spelers het ons daardie dag geseën met hul liefde en vrygewigheid. Dit was die tweede gholfdag wat deur die vriende van Kuierkidz gereel is met baie hulp van die personeel en ouers. Ons het pryse ontvang van al wat leef en hierdie dae word baie gewild onders Hartbeespoort se inwoners asook heelwat mense van Johannesburg en Pretoria.

Ons tweede groot aksie was die jaarlikse moderne Bybelse Musiekblyspel, King David and his eight wives, by die Kuierkerk op Hartbeespoort! Dit is soos gewoonlik geskryf deur myself (René van Zyl) en hierdie jaar het Doreen Coetzee gehelp met die regisseurwerk en die afrigting van die spelers. Dit was 'n reuse sukses en die spelers wat almal al so goed ken, het hulself goed gekwyt van hul taak. Die sang en toneelspel was uit die boonste rakke. Esmé Walker het soos gewoonlik die dekor hanteer en dit was lieflik. Almal het uit die toneelstuk gestap met 'n beter en meer empatieke verstaan van die rolspelers in die tyd van koning Dawid. Volgende jaar sal ons Koningin Ester aanpak, 'n kleurvolle fees vir die oog wat afspeel in Persië! My vingers juk al behoorlik om te begin skryf. Dit gaan vol humor en aksie wees! Dit sal weer die begin van Junie plaasvind.
Hierdie foto's kom uit die Dawid musiekblyspel by die Kuierkerk. Dit is 'n jaarlikse instelling en winste gaan aan Kuierkidz.








Bruce McKay was die mallerige koning Saul in die Koning Dawid musiekblyspel wat ten bate van Kuierkidz aangebied word.

Yolanda le Roux (links) is 'n groot hulp by die skool en offer so baie van haar tyd op om ons kinders te leer en te help. Jy is 'n engel! Langs haar is Charlie Brits, die voorsitter van ons Beheerliggaam en 'n fenominale vrou waarsonder ons nooit sou klaar kon kom nie! Dankie julle!

Dan was daar in Oktober die aksie wat gereel was deur Castrol Magnatek, Jakaranda en Dreamteam sommer by ons skooltjie. 'n Hele klomp mense het afgekom na ons plekkie en het die hele skool in'n partytjieplek omskep! Die kinders, personeel en ouers is bederf met lekker eetgoed, presente, skenkings aan die skool en almal was gedaan gespeel aan die einde van die dag - ook die personeel van die drie organisasies wat betrokke was! Baie dankie julle almal, dit was groot bederf!



 Die nar van Castrol het sy eerste optrede hier by Kuierkidz aangepak en dit was 'n vuurdoop! Hy het hom goed van sy taak gekwyt en net gelag! Die kinders was mal oor hom. Baie dankie!


Ons sien met afwagting uit na 2013 en die moontlikheid van ons eie perseel en geboue - mag die Here ons goedgesind wees en die balle wat reeds aan die rol gesit is, momentum gee sodat ons binnekort ons skool kan uitbrei na 'n voorskool, skool en na-skool fassiliteit! Prys die Here want hy is so goed vir ons en ons kindertjies!

2013: Hier kom ons!!